Skape en bokke is van tyd tot tyd vir slag of teel beskikbaar. Die diere is vry van antibiotika en vreet slegs gras.  Onbehandelde heuning is deurlopend beskikbaar.

 

Boerdery-aktiwiteite op Deelfontein

'n Paar beginsels, genoodsaak deur die spesifieke omstandighede, bepaal die boerdery-aktiwiteite op Deelfontein. Die Vredefort Koepel het arm grond, min water, en is bergagtig, en met 'n totale oppervlak van slegs 170ha is Deelfontein nie geskik vir grootskaalse ekstensiewe landbou nie. 

Met 'n oordeelkundige beweiding wat op die beskikbare grond en die samestelling van die plantegroei aangepas is, word die landskap in stand gehou en verbossing vermy. Hierdie beweidingsprofiel word optimaal deur die kombinasie van beeste, skape en bokke verwesenlik. Die verdeling van die plaas in nege kampe maak beweidingsbestuur moontlik en verhinder oorbeweiding. 

Die ligging van die plaas in 'n wereldnatuurerfenisgebied, en ook die gebruik as toeristebestemming en vir opvoedkundige seminare lei vanselfsprekend daartoe dat die omgewing so ver as moontlik in sy oorspronklike natuurlike toestand behou moet word. Daarom is 'n grootskaalse akkerbou of selfs aanplanting van uitheemse monokulture vir beweiding ongewens. Ten spyte hiervan word op 'n klein skaal vrugte, groente en voerplante aangebou. 

Die gebruik van inheemse diererasse verminder die toediening van medikamente dramaties, omdat die diere natuurlike weerstand besit. Geboorteprobleme kom nie voor nie, en die goeie kudde- en moederinstinkte beperk verliese van jong diere, omdat die kudde bymekaar bly en die moederdiere aggressiewe gedrag teenoor roofdiere openbaar. Die kleinvee word snags vir veiligheid gekraal. Hierdeur is die harmonie tussen die veeboerdery en die natuurlike roofdierbestand - jakkalse, rooikatte en luiperds - moontlik. 

Inheemse Veldbokke

Vir melkvoorsiening word 'n kudde inheemse veldbokke op Deelfontein aangehou. Daar word aktief vir melkproduksie geselekteer in 'n poging om 'n inheemse melkbok te teel. Die genetiese materiaal stam uit die Skilder- en Xhosa-lyne wat grootraamdiere lewer. 

Damaraskape

Sedert 2012 word 'n kudde Damaraskape opgebou. Die genetiese materiaal kom uit die kudde van Dawie du Toit by Prieska in die Noord-Kaap, een van die voorlopers van die vestiging van Damarateelt in die land. Die skape word vir eie vleisvoorsiening aangehou asook bemark in die vorm van teeldiere en slaggoed.

Ngunibeeste

'n Klein kudde van Ngunibeeste word op Deelfontein aangehou. Die beesboerdery is 'n samewerkingsonderneming met twee ander boere in die omgewing.

Byeboerdery

Met slegs 8 byekorwe is die byeboerdery op Deelfontein op 'n klein skaal. In lyn met die beginsels van omgewingsvriendelikheid en volhoubaarheid word slegs soveel byeswerms aangehou as wat die omgewing kan dra. Slegs plaaslike, wilde swerms word gebruik om siektes te beperk en weerstandigheid te verseker. Elke swerm produseer gemiddeld 20kg heuning per jaar. Die heuning word per hand uitgewaai en sonder enige verhitting of filtrering verpak. Rou heuning en byewas is deurlopend beskikbaar.