 |
Die Koepel Kunstesentrum
Ontmoetings -- opleiding --
konsertprojekte: Sulke aktiwiteite verbind opvoeding, vaardigheid, vreugde en die
uitruil van ervaring tussen mense met eenderse doelstellings en behoeftes, en
vorm kristalliseringspunte vir die kultuur. In die afgeleë stilte van
Suidafrika se jongste Wereldnatuurerfenisgebied bied die Koepel Kunstesentrum op
Deelfontein die moontlikheid om ver van die gejaagdheid van die stad
op die wesentlike te kan konsentreer, en 'n verskeidenheid van
aanbiedinge -- meestersklasse, koorweke, kamermusiekkursusse, joga- en singewingsuitvlugte, handwerkskursusse of dansbyeenkomste -- vir lewensverryking
te ervaar.
In 'n verskeidenheid van geboue kan aan tot 46 persone verblyf en etes verskaf word.
Verskeie
werksruimtes is vir voorlesings of
onderrig in groepe beskikbaar. In die laaste boufase word 'n eetsaal en
akkommodasie vir die finale kapasiteit van 120 persone
opgerig. Die ongerepte natuur, vele kilometers
voetslaanpaaie, 'n bergfietsroete en 'n swembad bied ontspanningsmoontlikhede in die buitelug.
Deelfontein is in die kern van 'n afgeleë en
grootliks ongerepte berggebied ongeveer 130 km suidwes van Johannesburg
geleë. Hierdie gebied, die reste van 'n geweldige asteroïdimpak, is
grootliks in privaatbesit. In 2005 is dit deur die inisiatief van 'n groep
grondeienaars en die departemente van Omgewingssake van die twee provinsies
deur UNESCO as Wereldnatuurerfenisgebied verklaar. Deur die goeie
verkeersverbindings en die nabyheid aan amper een derde van Suid-Afrika se
bevolking, word deur hierdie ligging 'n optimale ewewig tussen
afsondering en bereikbaarheid gewaarborg.
Die ontwikkeling van 'n aanleg soos die Kunstesentrum
in 'n natuurbewaringsgebied soos die Vredefort Koepel
stel groot eise aan die ontwerp, maar bied ook
interessante uitdagings. Die doelwit is om alle
noodwendige ontwikkeling en versteurings op die plaas
aan die volgende beginsels te toets:
- Optiese versteuring te minimeer deur geboue so
laag as moontlik te bou, fassades en dakke te
beplant, en bome en grondwalle as sigskerms te
gebruik, en so optimale versmelting met die omgewing
te bereik.
- Ontwikkeling te beperk tot reeds versteurde
grond en in die nabyheid van bestaande geboue te hou,
om onversteurde dele van die plaas so te bewaar.
- Die verbruik van natuurlike hulpbronne soos
water en energie reeds in die ontwerpstadium te
minimeer.
- Die ontstaan van afval te minimeer en in geheel
van die omgewing af te skerm.
- Alternatiewe energiebronne te benut om die
mikpunt van selfvoorsiening te bereik.
Dit is reeds met huidige tegnologie moontlik om huise
met 'n positiewe omgewingsbalans te ontwerp. Vir die
ontwikkeling op Deelfontein geld die ambisieuse doelwit
om dit ook vir 'n aanleg soos die kunstesetrum te bereik,
wat aan die behoeftes van groter groepe moet voldoen,
sonder om algemeen aanvaarde norme en standaarde prys te
gee. Daarmee sal bewys word dat nie net privaathuishoudings nie, maar
ook aanlegte van hierdie grootte met 'n minimale verbruik van hulpbronne
kan funksioneer. Die hoop is dat so 'n omgewingsvriendelike bouwyse die impak op
die Koepel sal verminder en ook 'n voorbeeldfunksie kan
vervul om die omgewingsverbruik in die algemeen te
verminder.
 |