|
|
|
Sterrekykuitstappies vind gedurende die
wintermaande plaas wanneer atmosferiese toestande gunstig is. Raadpleeg
inligting oor uitstappies onder Gebeure
Sterrekyk is nie op kort kennisgewing beskikbaar nie, aangesien die aanbieder gereël moet word en 'n minimum groepgrootte geld.
Toegang tot Deelfontein is onmoontlik sonder kennisgewing. Die ingangshek word gesluit en daar is nòg by die hek, nog elders op die plaas telefoonontvangs.
Die padaanwysings is in die kolom regs en op die hoofblad beskikbaar. Druk asseblief die aanwysings uit en moenie op GPS alleen staatmaak nie. Daar is geen telefoniese hulp vir verdwaaldes nie.
|
Die Ligging Deelfontein is geleë in die Vredefort Koepel Wêrelderfenisgebied, 'n grootliks ongerepte natuurgebied waar ligbesoedeling nog minimaal is en die naghemel donker genoeg om effektiewe sterrekundige waarneming moontlik te maak. Deelfontein is 140km vanaf Johannesburg, 20km vanaf Parys, 14km vanaf Vredefort, en 45km vanaf Potchefstroom in die Vrystaat. Die Fasiliteite Die sterrewag by Deelfontein is 'n oop sirkelvormige struktuur waar teleskope opgestel kan word en wat sitplek aan groepe tot 20 persone bied. Daar is plek vir verskeie teleskope binne en buite die struktuur. In die naasliggende seminaarkamers kan aanbiedings plaasvind. Akkommodasie is beskikbaar in twee gastehuise, 'n rondawel, en 'n boskamp. Die Toerusting Schmidt-Cassegrain 12" teleskoop (Meade) met outomatiese beheer; 3" refraktorteleskoop, 10" Dobsonteleskoop. Besoekers is welkom om hulle eie toerusting op te stel. Gebruik van die Meade is slegs moontlik onder toesig van 'n lid van die Astronomievereniging van Pretoria of na opleiding. Aanbiedings Sterrekykuitstappies kos tussen R100 en R200 per persoon afhangende van groepgrootte. Uitstappies word op hierdie webwef onder Gebeure geadverteer. Groepe kan uitstappies minstens een maand vooruit aanvra, sodat daar tyd is om 'n aanbieder te reël. Die uitstappies vind meestal in die winter plaas, wanneer bewolkte weer of deinsigheid onwaarskynlik is. Toestande vir sterrekyk is optimaal twee weke voor en een week na nuwemaan. Gaste is welkom om van die akkommodasie op Deelfontein gebruik te maak. Tariewe vir oornagting verskyn elders op hierdie webwerf. Navorsing Sterrekundige navorsing word verwelkom. Gebruik van die sterrekundige fasiliteite vir oornagbesoekers is verniet .
|
|